Eerste fase van projek behels 2 500 eenhede
‘n Kunstenaarsvoorstelling van die wooneenhede in die Otjomuise-projek van R812 miljoen in Windhoek. Die eiendomsontwikkelaar Calgro M3 het ‘n kontrak vir die oprigting van duisende wooneenhede in Namibië losgeslaan.
Die Otjomuise-projek R812 miljoen in die noordweste van Windhoek is sy eerste tree buite Suid-Afrika.
Derek Steyn, Calgro se uitvoerende direkteur vir sake-ontwikkeling, sê die maatskappy brei voorlopig net na Namibië uit omdat daar te veel risiko’s in van die ander Afrika-lande is.
In die Otjomuise-projek moet 2 523 eenhede binne drie en ‘n half jaar voltooi wees. Dit is net die eerste fase, en Calgro is besig met die uitleg van die volgende fases, sê Steyn.
Namibië se National Housing Enterprise (NHE) gaan volle eienaarskap van die eenhede hê en huislenings aan voornemende kopers beskikbaar maak. Steyn sê dis ‘n konstruksieprojek met ‘n begroting en kliënte, wat die risiko beduidend verminder.
Otjomuise is ‘n Herero-woord wat “plek van stoom” beteken en verwys na die warmwaterbronne in die Namibiese hoofstad.
Calgro volg ‘n geïntegreerde model in Suid-Afrika wat HOP-huise, huureenhede, huise vir die tussenmark en bekostigbare huise insluit. ‘n Klein persentasie van sy werk is op die middel- tot hoërinkomste-segment gemik.
Steyn sê die eenhede in Namibië is vir verskillende inkomstegroepe bedoel. In Suid-Afrika beplan Calgro R17 miljard se projekte vir die volgende vyf jaar, onder meer vir meer as 50 000 wooneenhede landwyd. Sy grootste ontwikkeling is Fleurhof aan die Wes-Rand, wat by voltooiing 10 199 eenhede gaan hê. Ander is Brandwag in Bloemfontein met 1 051 eenhede en Scottsdene in Kaapstad met 2 624 eenhede. Steyn sê nog drie projekte gaan binne ses maande van die grond af kom wat Calgro se verdienste ‘n hupstoot gaan gee. Dit is South Hills met 5 161 eenhede in die suide van Johannesburg, wat in ‘n gesamentlike onderneming met Standard Bank ontwikkel word, Vista Park in Bloemfontein met 5 320 eenhede en Belhar in Kaapstad, waar 627 gesubsidieerde huureenhede aanvanklik gebou gaan word. By voltooiing sal dié projek 3 600 eenhede hê.